Monday, December 6, 2010

Perspektief

Sorry Guys, this one's in Afrikaans for a change.

Ons begin nou die laaste week van hierdie skof op die boot en in 'n sekere sin is ons bly dis op 'n einde en aan die anderkant erg jammer dat ons die fase van werk moet onderbreek. Voor die deur lê die installering van die sentrale verhittingstelsel, warm lopende water, 'n nuwe hoofingang, groter vensters, die tydelike maar operasionele kombuis en sekere verdere staalwerke om die boot meer prakties en fatsoenlik te maak. Ons sal hierdie nie alles klaarkry voordat ons terugvertrek nie en sal dus eers die uitslag daarvan sien as ons in die nuwe jaar terugkom.  
Lopende water aanboord

Terwyl ek vir die Departement gewerk het, het ek altyd kollegas wat in opwinding gereed gestaan het om vir die eerste keer te vertrek na 'n vreemde land om die Departement daar te verteenwoordig gewaarsku oor die waterskeidings van twee en agtien maande. Na omtrent twee maande in die vreemde is die opwindende nuutheid van die nuwe omgewing afgewerk en kry die beslommernis van gemiste gebruiksartikels (Mrs Ball's bo-aan die lys vir gesoute Suid-Afrikaners) en die verlange na familie en vriende sterk die oorhand. Meer hieroor later. Die ander waterskeiding is dat in 'n buitelandse pos mens eintlik eers volledig operasioneel is na agtien maande in die pos. Dis dan eers dat jy die frustrasie van nuwe paaie, onbekende handelsmerke en -kultuurdimensies weggewerk het, en die werklik kenmerkende interessanthede van die nuwe omgewing sinvol begin vertolk en kan geniet.

Ons is nou bykans twee maande hier en min het ek gedink dat dieselfde twee maande sindroom waarvan ek my kollegas gewaarsku het my ook weer sou tref nie, die keer nie so erg as in die begin nie en op 'n ietwat ander manier, noudat ek afgetree is.

Eerstens, die omvang van die projek wat ons aangepak het is nie gering nie en die implikasies in terme van tyd, fisiese inspanning, gebrekkige kennis en handvaardigheid en geld begin nou deurwerk.

Ons het 'n 20 meter geklinknaelde staal boot van 1914 gekoop en besluit om hom te restoureer, maar om die karakter te probeer behou wat sy gehad het toe hul haar in die 50's-60's na 'n "woonschip" omskep het van 'n werkende seiltjalk wat kommersieël ongeveer 50t graan, voer of "stront" onder seil in die binnelandse waters in Nederland vervoer het.  Sy het 'n viersilinder dieselmotor wat dieselfde is as wat die 1960's Mercedes 190D aangedryf het.

Ons boot, Linquenda, is ingeskryf op die Nederlandse skeepsregister en is een van die ongeveer 1100 skutsje tjalke wat op die skutsje stamboek bygehou word. Sien die Skutsje Historie webwerf vir besonderhede oor die tipe platbodemskip: http://www.skutsjehistorie.nl/schip.php?id=316. Hierdie skepe het op die kanale met hul seile rondbeweeg en hul vrag deur Nederland vervoer. Daar is tans ongeveer 70 skutsjetjalke in Holland wat eg oorspronklik nog aan seilwedvaarte deelneem. Met hul oënskynlik lompe liggame seil hierdie skepe verbasend goed.

Een van die vrae wat na vore gekom het is of ons dan reg was om die mas en seile te verwyder en die groot voordek te omskep in meer leefruimte. Ek sou so graag die seile wou gehou het, maar twee van ons kon nie die hoofseil oplig nie, wat nog van hys en rig! Die seile is die week weg aan 'n skutsjeliehebber wat van sy 13 m tjalk wil opgradeer na 'n groter seiltjalk. Nadat ek visioene gehad het dat ons dit vir 'n goeie prys sou kon verkoop ontvang ons toe uiteindelik, na 'n paar weke se adverteer op die plaaslike e-mark "Markplaats", in ruil daarvoor 'n bottel cognac en 'n mooi bos blomme as beste aanbod- 'n aanbod wat ons dadelik aanvaar het om ruimte te skep voor in die skip. Dis duidelik dat daar nie 'n groot mark is vir hierdie spesifieke gebruikte toerusting wat nie gepas is vir wedrenne nie. Ons rig 'n "leefship" in en hoewel ons sover moontlik die interne karakter en die pragtige slanke lyne sal behou, ons sal haar fisies net nie kon seil sonder 'n span nie en die besluit is gedane sake waaroor ons heel tevrede is. Die sweiser wat vir ons die omskakeling gedoen het, het pragtig geslaag om die vloeilyn van die dak te behou en vir ons staanruimte binne te gee. Menige wat verbystap maak die opmerking dat sy 'n "leuke schip" in die verband is.
Om terug te kom na die geestestoestand toe. In die verlede was ek 'n 12-6 persoon. Hier egter is dit maar baie ongereeld dat ons na tienuur gaan slaap en ons staan min oggende voor nege-uur op. Ons slaap ons oor 'n mik. Dit moet die fisiese werk wees en die feit dat ons geen ernstige bekommernisse of gewaande verantwoordelikhede het nie. Ons is versigtig vir wat gevaarlik is soos gas wat kan lek of diesel wat oorloop, maar verder geniet ons maar net die boot, die marina en sy mense.

Die marina kan vergelyk word met 'n klein dorp met so 'n 20 voltydse bewoners. Alles wat jy beplan word deur almal bespreek en is, voel dit partykeer, bekend voor jy self al daaroor gepraat of besluit het. Dis fasinerend en vir ons vreemd, nie onaanneemlik nie, net anders en iets om aan gewoond te raak.

Ons het werklik wonderlike, hulpvaardige en vriendelike mense hier ontmoet, elkeen 'n besondere karater met sy eie interessante verlede of eienskappe. Die een 'n talentvolle Amerikaanse professionele oorlogsfotograaf, die ander eienaar van 'n bed-en -ontbyt hotel aangrensend die Skotse hooglande, hy is ook 'n trekklavier onderwyser en vorige eienaar van 'n metaal houer bedryf. Verder is daar afgetrede Hollanders wat permanent op hul bote bly, onder andere een paar in hul tagtigerjare en wat steeds gereeld oor die somer Europa deurkruis met hul boot- verlede jaar 600+ sluise moes oopmaak op hul reis.

Die ander is 'n Brit wat selfs deur die winter in sy kortmou hemp en kortbroek in die marina rondbeweeg. Hy is 'n welbelese, gekultiveerde, hulpvaardige indiwidu wat enigiets tegnies baas is en kan help om dit te herstel. Ander Britse vriende het hul florerende besigheid aan hul seun oorgedra om in Europa op die kanale rond te vaar. Hul het oor die afgelope 18 maande hul tjalk uitmekaar getrek en wonderlik gerestoureer as hul nuwe permanente woning, met al die normale huishoudelike toerusting, insluitende sentrale verwarming, wasmasjien, Britse skottel TV ens. Hulle is gelukkig 'n uitstekende bron van ervaring oor die restoureringsproses. Dis almal vaardige mense hierdie, met kennis en praktiese ervaring oor bote en die water.


Menigmaal het ek en Rudi mekaar gevra, is dit wat ons nou mee besig is die regte ding. Moet ons soveel tyd en geld in die boot belê, moes ons nie maar veilig by die huis gebly het nie en met ons normale lewe aangegaan het nie? Die afgelope week het hierdie onsekerhede by tye hoogty gevier toe ons besluite moes neem oor die installering van 'n nuwe hoofingang na die boot - uit kiaat met 'n eikehout trap - 'n item wat met vaardige Nederlandse timmermanshande pasmaak aanmekaargeslaan moet word teen 'n prys wat vergelyk met die van 'n billike tweedehandse motor by die huis.  Hierby moes ons besluit oor die sentrale verhittingstelsel, vir 'n afslag deur ons goeie marinakontakte, maar vir 'n belegging wat vergelyk met die aanbou van 'n garage by die huis - dit was egter hierdie afgelope week  minus 6 grade met sneeu en die prys van die installasie word hierteen maklik afgereken. Bykans al hierdie dinge het ons voor begroot, dus gaan dit nie soseer oor die absolute koste nie, eerder daaroor dat ons tans besig is om die droom 'n werklikheid te omskep en daarby 'n groot belegging in 'n nuwe woning en leefstyl maak.

Bevrore patryspoort van binne die boot

Ons verlang huistoe, maar is steeds tevrede met ons besluit en ons klink saans 'n glasie op ons droomboot. Ons slaap warm, lag baie, gesels met almal en vloek gereeld skerp as hammer duim raakslaan of 'n stuk gereedskap wat sopas in hand was nou soek is - dit egter sover nooit met moedeloosheid of bitterheid nie, altyd met 'n tikkie humor en 'n glimlag. Dis alles deel van 'n nuwe tydvak in ons lewe wat ons beide nog steeds terdeë geniet en glo dat die somervrugte soet sal wees na die plesier van die werk om die boot in 'n gangbare vaarstaat te kry.

Wat die werk aan die boot betref kan ek met oorgawe sê dat Rudi die week gered het deur aan te dring om die isolasie in die nuwe voorgedeelte te installeer. Dit het my uit 'n reeks ander onbenullige aktiwiteite genoop om vinng en doelgerig die nodige houtsparre te saag en aan te bring sodat sy die "piepskuim"- styrofoam blokke kon inpas. Sy het meer as helfte van die ruimte nou ge-isoleer en sal sekerlik more naby kom daaraan om die taak te voltooi. Ek dink en sy doen, wat 'n elegante en effektiewe kombinasie is wanneer sy die regte knoppies druk!

Ys aan die mure voor isolasie!


Nie meer 'n koue grot nie, maar 'n netjiese tydelike stoorplek
 Ons laat julle met 'n paar fotos van Amsterdam
Nemo

Amsterdamse kanaal

Kaaswinkel

Groetnis tot volgende week.

1 comment:

  1. Hallo Attie en Rudi. Ek stem saam dat dit tyd vat om aan te pas in 'n nuwe land maar as mens eers aangepas het is dit baie moeilik om weer weg te gaan. Ek is op die oomblik in Geneva vir WTO vergaderings en dit voel asof ek hier hoort. Dit was sondag vreemd om nie huis toe te ry nie maar hotel toe te gaan. Sien julle in SA.

    ReplyDelete